Petri met ’n tiervis van amper 12 kg
Petri de Wet, aanbieder van die kykNET-hengelprogram Hier gaan ons alweer, het die senior Protea-span gehaal wat die land van 28 November tot 5 Desember 2016 in Malawi gaan verteenwoordig.
Slegs vier hengelaars is deur die Suid-Afrikaanse Kunsaashengel Vereniging vir dié span gekies, wat De Wet as een van Suid-Afrika se top-hengelaars uitsonder. Ons het met hom gesels:
Baie geluk met die groot prestasie! Wat moet ’n mens alles regkry om vir Protea-kleure benoem te kan word?
Hengelaars begin eers op klubvlak, totdat hulle genoeg evaring opgedoen het om aan die provinsiale proewe deel te neem.
Op provinsiale vlak moet ’n hengelaar ’n jaar lank deelneem en as jy kwalifiseer vir die provinsiale span kan jy aan die Suid Afrikaanse hengelkampioenskappe gaan deelneem en daarna aan die Protea-proewe. Die proses word vir drie jaar herhaal en as jy ná die drie jaar onder die top-vier hengelaars val, kan jy gekies word vir die vier-man Protea-span.
![Petri de Wet]()
Petri met ’n groot kabeljou wat met kunsaas gevang is
Oor watter eienskappe beskik ’n goeie hengelaar?
Baie tyd op die water gee jou gewoonlik baie ervaring, maar ’n goeie hengelaar leer oor jare wanneer, waar en hoe om groot visse te vang. Uithouvermoë en harde werk is baie belangrik. ’n Goeie hengelaar hou altyd aan om te leer, selfs by beginners.
Wat beteken die benoeming vir jou?
Ek is baie dankbaar daarvoor en beplan om my beste te gee vir my land. Dit voel soos ’n beloning vir baie jare se harde werk.
Vertel ons meer van die toernooi waaraan jy in November gaan deelneem.
As alles mooi loop hengel ons die toets in Malawi op die Malawi-meer. Ons Protea-span sal in twee dae moet leer wat die ander spanne al vergeet het oor die jare. Ek glo dit gaan ’n taai stryd wees.
![Petri de Wet]()
Petri met ’n karp van sowat 18 kg
Waarna kan kykers uitsien in die nuwe seisoen van Hier gaan ons alweer?
In die nuwe reeks gaan ons ’n paar pragtige plekke besoek in Afrika en groot visse jag. Ons gaan ook op tuisbodem die grotes jag. Sou ons dit regkry gaan ek met die kykers wenke deel wat hulle ook sal help om dieselfde sukses te behaal.
Die nuwe seisoen van Hier gaan ons alweer begin op 3 Oktober 2016 om 17:30 op kykNET.
The post Petri de Wet gaan hengel vir SA in Malawi appeared first on Kyknet.